'n Boek 'n dag laat die swak punte wag!

Om ‘n boekwurm te wees het baie voordele.  Onthou jy die tyd toe jy dikwels raas gekry het omdat jy na slaaptyd met ‘n flits onder die komberse boek gelees het?  Maar watter wonderwêreld was dit net nie.  Jy was die held, die speurder, die drie-druk-kampioen of wêreld-beroemde filmster.  Jy kon jou inleef in die fantasiewêreld wat soos ‘n werklikheid gevoel het.

Dit is wat ons vir elke leerder van Bergland wil gee: die geskenk om te kan lees.  Ons wil ‘n liefde vir lees kweek by elke Bergie-leerder.  Lees is die grondslag vir sukses, nie net op skool nie, maar ook later in ‘n leerder se beroep.  Lees skep ‘n wonder-wêreld waar karakters ‘n werklikheid word, ‘n wêreld waar leerders heen kan vlug, ‘n wêreld waar hulle hulself kan inleef. Volgens ‘n studie aan die Universiteit van Ohio, 2019, stuur ouers hulle kind na Graad 1 met tot een miljoen meer woorde in hulle woordeskat as hulle vir hul kinders elke dag ‘n storie lees.  Om ‘n lekker boek te lees is vir seker goed vir jou kind se breingesondheid.  Dit kan selfs hulle toetspunte en wiskundepunte verbeter.  ‘n Lekker boek laat jou vinniger lees.  Dit is ook wonderlik vir jou kind se geestesgesondheid.

As ouers en onderwysers het ons ‘n geweldige verantwoordelikheid teenoor kinders om seker te maak dat hulle gereeld boeke lees en ook die regte boeke lees.  Dit kan ‘n kind se lewenskoers bepaal en ook selfs ‘n lewe red.

Laerskool Bergland Mediasentrum

Laerskool Bergland se Mediasentrum is geleë in Waterbokstraat. Die biblioteek skep ‘n huislike en warm atmosfeer waar leerders na hartelus kan boeke lees en uitneem. Hier ontmoet jy vir Juffrou Dina Pretorius (mediasentrumonderwyseres).

Hoe werk die mediasentrum?

  • Elke klas, van Graad 1 tot Graad 7, volg ‘n twee-weeklikse rooster.
  • Die klas/taalonderwysers vergesel hul leerders na die Mediasentrum.
  • Hier word boeke uitgeneem, na ‘n storie geluister, spel- of begripsaktiwiteite gedoen of sommer net self gelees vir eie genot.
Gr 1 tot 7 Mediasentrumtye
Graad Maandae Dinsdae Woensdae Donderdae
Gr 1 – 3

Gedurende skooltyd en 2de pouse.

Vanaf

13:00 – 15:00 in die middae.

Gedurende skooltyd en 2de pouse.

Vanaf

13:00 – 15:00 in die middae.

Gr 4 – 7

Vanaf

13:00 – 15:00 in die middae.

Gedurende skooltyd en 2de pouse.

Vanaf

13:00 – 15:00 in die middae.

Gedurende skooltyd en 2de pouse.

Ander aktiwiteite van die Mediasentrum

Behalwe die uitneem/leen van boeke of CD’s, word daar ook ander aktiwiteite aangebied waaraan die hele skool kan deelneem; bv.:

  • Jaarlikse boekuitstallings deur DISKONTO- en LAPA-Boeke
  • Leesaktiwiteite soos:
    • Hardoplees op Wệreld Hardopleesdag
    • Skryf ‘n storie/gedig vir Wệreldboekedag
    • Leesmarathon (lees hardop vir 1 minuut)
    • Boekkarakterdag (trek soos ‘n boekkarakter aan)

Algemene inligting van die Mediasentrum

  • Elke maand word daar ‘n nuwe tema gebruik en ‘n uitstalling word in die voorportaal van die Mediasentrum gedoen. Ons mannekyn is ook ‘n legende, want sy ondergaan gereeld ‘n metamorfose! Word sy dalk snags wakker soos karakters uit “Night in the Museum”?
  • Hier is ‘n volwaardig toegeruste Volwasse Afdeling vir ouers ook.
  • Boeke mag vir 2 weke geleen word.
  • Die Mediasentrum beskik oor 6,020 boeke waarvan die meeste in die Grondslagfase en Volwasse Afdeling, geskenk is.
  • Die medialeiers volg ‘n diensrooster om toe te sien dat die boeke weer netjies op die rakke geplaas word. Aan die einde van die jaar word hulle beloon met ‘n genotvolle uitstappie.
afAfrikaans